LIMPOPO. – Twee leerlinge het Woensdag ná 15:00 op ‘n grondpad naby die Apel-kruispad in Limpopo gesterf toe ‘n minibus-taxi aan die brand geslaan het. Die bestuurder (44) is op ‘n aanklag van strafbare manslag in hegtenis geneem. Hy het glo ook die wet oortree deur die voertuig te oorlaai en kon nie ‘n geldige bestuurspermit toon nie.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het die Toyota Quantum-taxi sowat sowat 22 leerlinge tussen die ouderdomme van 7 en 10 jaar na hul huise geneem. Dit het skynbaar skielik vlam gevat. Die oorsaak daarvan is nog nie vasgestel nie. Die oorledenes kon nie daarin slaag om uit die brandende taxi te ontsnap nie. Sewe ander leerlinge is met beserings na ‘n plaaslike hospitaal geneem, terwyl dertien ongedeerd daarvan afgekom het.
Die bestuurder sal na verwagting vandag in die Nebo-landdroshof verskyn. Verdere aanklagte word nie uitgesluit nie.





