Lesers deel hulle ondervinding by die stembus

Lees ook :

Foto: Chané Rossouw

Nuusflits-lesers het ure in rye gestaan om hulle kruisies te trek. Met die stemproses wat op die oppervlak sonder probleme afgeloop het, was daar diegene wat baie lank in rye moes staan weens stelsels wat probleme gegee het.

Heelwat ander probleme het kop uitgesteek, terwyl menige van ons lesers ‘n aangename ervaring gedeel het.

Chané Rossouw het haar ouma, Petro, wat eersdaags 97 word, se foto met ‘n gemerkte duim gedeel. Ouma Petro het tuis in haar bed gestem en gesê almal moet hulle kant bring. Sy bid vir verandering in Suid-Afrika.

Persone wat op verskillende tye van die dag by dieselfde stemlokaal by ‘n ry ingeval het, het nie noodwendig dieselfde ondervinding gehad nie. Terwyl sommiges slegs minute geneem het, het ander baie lank in die rye gestaan voordat hulle hulle stem kon uitoefen. Vir sommige lesers het die stemproses vyf minute geneem vandat hulle uit ‘n voertuig geklim, gestem en weer terug was in hulle voertuig.

Antoinette Venter wat in Londen bly en daar gestem het, sê dit het hulle het ongeveer 5 ure in die ry geneem.

Jan White het by Summerfield Primary in Boksburg gestem en sê hulle het 07:30 in die ry gaan staan en was nege en ‘n half uur later om 17:15 eers klaar. Hy beskryf sy ondervinding as “slegte organisering” en sê hy weet nie of dit met opset was sodat gefrustreerde persone die ry moes verlaat en nie stem nie.

Yolandé Spangenberg Jantjies sê in Mosselbaai by die stadsaal het die stemmery so twee uur lank geduur, maar sy het nuwe mense ontmoet en die tyd om te gesels, benut.

Betsie Snyman sê by Hoërskool Brits in Noordwes het sy “chaos” ervaar. Sy het ‘n SMS ontvang sy is by die stemlokaal geregistreer om ná ure in die ry te hoor sy is elders in Mamogalieskraal geregistreer. Snyman sê sy het wel gestem.

Tanya du Plessis het in Pretoria Moot vir ‘n uur lank in die ry gestaan voordat haar tiener agtergekom het sy is by die verkeerde stemlokaal. Nadat sy by die regte stemlokaal aangemeld het, het die stemproses vyf minute lank geduur.

Cindy Hale sê die stemproses vir haar en haar suster het in Germiston twee uur lank geneem. Hulle is beide in hulle 40’s en het vir die heel eerste keer gestem.

Martie Hurn sê in Polokwane was “geen orde” nie en dit het hulle agt en ‘n half uur geneem om by Laerskool Piet Hugo te stem.

Elsa Burger sê sy het by Boland-kollege in die Paarl gestem. Sy was al op pad om te stem toe sy self moes vra wie haar duim gaan merk. Burger sê sy is tussen 65 en 70 jaar oud en het uit ‘n siekbed opgestaan om te gaan stem. Nadat sy reeds haar stempapiere ontvang het, het iemand gevra of die bejaardes en diegene met hulptoestelle (krukke) uit die rye gehaal is. Burger sê: “Toe ek al my stempapiere klaar ontvang het, het ‘n dame gevra is daar mense wat die mense met krukke en oumense uit die ry haal, toe sê ek nee ‘n goeie mens wat agter my staan, het vir my plek gegee!”

Karin Strydom sê by Benoni-skibootklub is bejaardes nie uit die rye gehaal om eerste te stem nie.

Stefani Barnard van Trichardt, wat met ‘n kleuter op die heup by die stemlokaal was, is na voor gehelp en kon binne 30 minute stem.

Martie Nortjé van Alberton is op suurstof en alhoewel sy ‘n geleentheid gegun is om vorentoe te beweeg, het sy verkies om soos die res van die stemmers te staan tot dit haar beurt was om ‘n kruisie te trek.

Ursula Dirks het by Gordon High School in Somerset-Wes probeer stem, net om te hoor haar naam en ID-nommer is nie op die sisteem nie. Sy is terug huis toe en het self op die databasis gekyk en haar besonderhede op die sisteem gekry. Dirks is terug na die stemlokaal net om te hoor iemand het alreeds met haar besonderhede gestem. Haar duim het geen merk opgehad nie en sy is toegelaat om te stem.

Die stemproses was met gemengde ondervindings dus beslis nie sonder probleme soos nie. Terwyl Nuusflits slegs ‘n paar van die stories uitlig, kan daar oor vele meer goeie en slegtes elders op ons blad gelees word.

Vir sommige eerste stemmers en diegene wat voel vyf uur is nie te veel gevra vir verandering nie, was dit die moeite werd om te wag.

Op sommige plekke is grysaards vinnig uit rye gehaal om eerste te stem en kon hulle met ‘n kort tydperk by die stembus gespog. Om met pensioen te wees, het beslis sy voordele by sommige stemlokale gehad.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief