WES-KAAP. – Rethabile Tsemane (30), ‘n Lesotho-burger wat onwettig in die land is en noodsaaklike infrastruktuur op die plaas Vergenoeg beskadig het, is deur die Ceres-streekshof tot 12 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.
Die beskadiging het tot ‘n verlies van R117 000 gelei. Tsemane het op 9 Augustus 2022 die elektriese kabels gesny wat elektrisiteit aan ‘n pomp voorsien en deel van die plaas se besproeiingstelsel is.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Tsemane is op heterdaad deur die plaaseienaar betrap en die polisie is ontbied. In die hof het hy erken hy het die kabels wat hy gesny en heeltemal verwyder het, gesteel sodat hy geld kon hê om na homself om te sien. Hy het geweet wat hy doen is verkeerd en strafbaar deur die wet. Hy is aangekla van die peuter met, beskadiging of vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur. Tsemane het verder gesê hy het die land in 2017 sonder enige wettige dokumentasie binnegekom en die wet op immigrasie oortree.
Die hof het Tsemane tot 15 jaar gevonnis op die aanklag van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is. Verder is hy nog twee jaar vir die oortreding van die immigrasiewet gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnis verwelkom. Sy sê dié tipe misdaad het gevolge op plase waar gewasse vernietig word, werk verlore gaan, voedseltekorte ontstaan en pryse gevolglik beïnvloed word.