LESOTHO. – Lesotho het amptelik Elon Musk se lisensie goedgekeur om Starlink se satellietnetwerk- en internetdienste in die land aan te bied, het die Lesotho-kommunikasie-owerheid bevestig. Die lisensie, wat vir ’n tydperk van tien jaar geldig sal wees, maak van Lesotho een van die min lande in Suider-Afrika wat Starlink se gevorderde satelliettegnologie wettig toelaat.
Lees ook: SA skort samesprekings oor Starlink op
Hoewel Lesotho se regering volhou dat die besluit gebaseer is op “toegang tot digitale infrastruktuur en ekonomiese groei,” word daar wyd gespekuleer dat die stap deel is van ’n groter politieke ooreenkoms met die VSA. Lesotho was onlangs in die spervuur ná die aankondiging dat die VSA van plan was om handelstariewe van tot 50% op die land te hef. Dié tariewe is egter vir 90 dae uitgestel om verdere onderhandelinge moontlik te maak.
“Hierdie lisensie sal die weg baan vir digitale transformasie in Lesotho, veral in afgeleë gebiede,” het ’n woordvoerder van die kommunikasie-owerheid gesê.
Somalië het ook Sondag aangekondig dat dit Starlink se lisensie goedgekeur het, wat ’n groeiende neiging wys van Afrika-lande wat na satellietinternet as ’n oplossing vir beperkte breëbandinfrastruktuur kyk.
Elon Musk het in die verlede kritiek uitgespreek teen Suid-Afrika se besluit om Starlink se lisensie af te keur, en beweer dit is deels omdat hy nie aan die land se swart ekonomiese bemagtigingsvereistes voldoen nie.
Bronne: Business Insider Africa, IOL, Briefly
Lees ook: SA skort samesprekings oor Starlink op