NOORDWES. -Shakandinnyi Ndivhoswami Tshiovhe (34) is vir moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie deur die hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf plus ’n bykomende 50 jaar gevonnis ná ‘n pasiënt op 7 April 2021 by dr. Steenkamp se spreekkamer in Mabopane tydens ‘n rooftog doodgeskiet is.
Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits tydens die gewelddadige voorval het Tshiovhe saam met ander mans die praktyk binnegestorm en die dokter en pasiënte van hul waardevolle besittings beroof. ‘n Pasiënt wat geskiet is, is op die toneel dood verklaar. Dr. Steenkamp het uit selfverdediging sy gelisensieerde vuurwapen gebruik en Tshiovhe in die bors geskiet.
Getuies het gesien hoe Tshiovhe bloeiend saam met sy medepligtiges in ‘n wit Toyota Quantum van die toneel gevlug het. Die polisie het die volgende dag Odi-hospitaal besoek nadat ‘n wenk ontvang is, waar toesigmateriaal tot die identifikasie en arrestasie van Tshiovhe gelei het. Bloedmonsters van die toneel is forensies aan hom gekoppel. ’n Saak teen ’n mede-beskuldigde is later weens onvoldoende bewyse teruggetrek.
Tshiovhe het onskuldig gepleit, maar Ferdinand Tlatsana, die staatsaanklaer, het ter verswaring van die vonnis aangevoer dat die erns van die misdrywe en die afwesigheid van versagtende omstandighede die voorgeskrewe minimumvonnis regverdig. Die hof het hiermee saamgestem en die volgende vonnisse opgelê: lewenslange tronkstraf vir moord, 15 jaar elk vir twee aanklagte van roof, 10 jaar vir poging tot moord en vyf jaar elk vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Die vonnisse sal gelyktydig met die lewenslange vonnis uitgedien word. Tshiovhe is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Dr. Rachel Makhari, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, het die uitspraak verwelkom en die werk van aanklaer Tlatsana, die ondersoekbeampte en alle betrokkenes geprys.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





