GAUTENG. – Johannes Jacobus Christiaan Kotze (79) is vir die verkragting van ‘n meisie (6) wat hom “Oupa” genoem het, deur die Pretoria-Noord-landdroshof lewenslank tronk toe gestuur. Kotze is addisioneel op twee aanklagte van seksuele aanranding tot vyf jaar elk gevonnis. Hy sal die vonnisse gelyktydig uitdien.
Lumka Mahanjana, streekwoordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê Kotze – wat nie ‘n familieverbintenis met die slagoffer het nie – het ‘n kamer gehuur in dieselfde kommune waar hulle gebly het. Op 3 Oktober 2019 het die ma haar dogter gesoek en toe sy Kotze se kamer binnegaan, het hy sy hande dadelik van die kind weggevat. Sy het haar kind gegryp en in hul eie kamer ondervra. Die kind het aan haar ma vertel Kotze het onder andere onwelvoeglik aan haar geslagsdele gevat en haar gedwing om ook aan syne te vat. Sy het ook te kenne gegee dat dit nie die eerste keer was dat dit gebeur het nie. Die ma het ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak en Kotze is op 24 Oktober 2019 in hegtenis geneem.
Mahanjana sê Kotze het onskuldig gepleit en gesê die kind se ouers het die verkragting weens ‘n geskil oor huur by die kommune gefabriseer. Hanlie du Preez, die staatsaanklaer, het egter bo redelike twyfel bewys Kotze is skuldig. Tydens vonnisoplegging het Kotze sy ouderdom en gesondheid as versagtende omstandighede voorgehou. Du Preez het egter geargumenteer dat Kotze nie berou getoon het nie. Sy optrede het boonop langdurige trauma vir die kind besorg, aangesien sy gereeld nagmerries kry. Sy het aangevoer dat ouderdom alleen nie so ’n gruwelike daad kon verskoon nie en het die hof gevra om die oortreder tot lewenslank te vonnis.
Piet Nel, die streekhof-landdros in die saak, het met die staat saamgestem en het nie wesenlike of dwingende omstandighede gevind om versagting te regverdig nie, waarop lewenslange tronkstraf opgelê is. Kotze se naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit, asook om met kinders te werk.
Adv. Marika Jansen van Vuuren, die waarnemende direkteur van opgenbare vervolging in die provinsie, het die staatsaanklaer en ondersoekbeampte in die saak vir hulle toewyding geprys.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





