WES-KAAP. – Warren Hermanus (39) is deur die Worcester-streekhof vir die voorafbeplande moord op Xavier Hess (24) tot lewenslange tronkstraf gevonnis, asook vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Hermanus het Hess op 29 Mei 2022 vier keer in Neethlingstraat, Worcester, geskiet. ’n Getuie, wat saam met die oorledene was, het die beskuldigde tydens ’n foto-uitkenningsparade uitgewys en hy is op 4 Junie 2022 gearresteer.
Cornelius Prinsloo, die waarnemende streekhofaanklaer in die saak, het teenstrydighede in die alibi wat die beskuldigde tydens sy getuienis aangebied het tydens kruisondervraging uitgewys.
Prinsloo het die viva voce-getuienis van die oorledene se vriend gelei, wat getuig het dat hy die beskuldigde geken het en hom die oorledene gesien skiet het toe hy ’n paar meter voor die oorledene geloop het. Prinsloo het ook dokumentêre bewyse ingedien, insluitend ’n nadoodse ondersoekverslag, foto’s van die uitkenningsparade, asook ’n waarskuwingsverklaring van die beskuldigde, waarin hy beweer het dat hy tydens die skietvoorval by die huis saam met sy ma en oom was. Die beskuldigde het sy oom en ’n vriend as alibigetuies geroep, maar Prinsloo het die alibi vernietig deur teenstrydighede en onwaarskynlikhede in hul getuienis uit te wys.
Die hof het bevind die alibi was vals. Prinsloo het ter verswarende omstandighede aangevoer dat die misdaad die gemeenskap en die oorledene se familie ernstig geraak het.
Die NVG verwelkom die vonnis.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





