Lewenslank vir onderwyser wat leerling in klastyd verkrag

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Jeremy Claasen, ‘n lewensoriëntering-onderwyser wat ‘n gr. 8-leerling op 7 Februarie 2020 by die skool in skooltyd verkrag het, is deur die Worcester-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die slagoffer, wat tydens die voorval minderjarig was, se naam word weerhou om sekondêre viktimisasie te keer.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê Cornelius Prinsloo, die waarnemende staatsaanklaer in die saak, het aangevoer Claasen het met die leerling oor sosiale media gekommunikeer en ’n vertrouensverhouding opgebou.

Op 7 Februarie 2020 het sy hom genader om haar selfoon te laai, waartydens hy haar ten spyte van haar teenstand in die klaskamer verkrag het. Sy het ‘n vriendin drie dae later van die voorval vertel, wat dit by ’n onderwyser aangemeld het. Die skoolhoof het dit weer ingevolge Artikel 54 van die Wysigingswet op Seksuele Misdrywe by die polisie aangegee. Die leerder is by die Worcester Thuthuzela-sorgsentrum ondersoek. Haar getuienis is deur die staat via geslote kringtelevisie aangebied.

Claasen het aan die hof gesê hy het ’n alibi en dat hy nie die misdryf kon gepleeg het nie, aangesien hy daardie dag in die hof was om ’n verkeersboete te betaal. Die beskuldigde se weergawe was vol teenstrydighede en onwaarskynlikhede. Die hof het sy alibi as onwaarskynlik en bo redelike twyfel vals bevind, waarna hy aan verkragting skuldig bevind is. ‘n Mediese verslag van ’n dokter het verkragting bevestig. Die hof het die slagoffer as ’n betroubare getuie beskou en Claasen se alibi vals.

Prinsloo het ter verswaring van die vonnis geargumenteer Claasen het sy posisie misbruik en die leerder se regte geskend. Die hof kon geen dwingende redes vind om van die minimum vonnis af te wyk nie en het hom tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap, het die samewerking van die vervolging, ondersoekspan en Thuthuzela-personeel geloof.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief