GAUTENG. – Die saak teen Louis en Dezzie Liebenberg is vir borgaansoek tot 15 November in die Bronkhorstspruit-landdroshof uitgestel. Die Liebenbergs bly in aanhouding, terwyl die ander beskuldigdes op borg vrygelaat is. Meer aanklagte is in die saak bygevoeg.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Liebenberg het met die vorige verskyning borg laat vaar. Kleynhans, Shulenberg en Niedinger is reeds op borg vrygelaat. Nog vier verdagtes is vandag borg toegestaan. Buiten die vorige aanklagte is die volgende aanklagte bygevoeg: Louis Petrus Liebenberg en sy vrou staan nou ook bykomend op twee aanklagte van geldwassery tereg. Desiree Liebenberg het nog ‘n addisionele aanklag van korrupsie, terwyl Kleinhans ‘n addisionele aanklag van geldwassery bygekry het. Nog meer aanklagte sal geformuleer en in ‘n latere stadium bygevoeg word.
Die sewe ander beskuldigdes se saak is vir verdere ondersoek tot 4 Februarie 2025 uitgestel.
Willem Petzer sê buite die hof Louis Liebenberg het beweringe teen dr. Pieter Groenewald, die minister van korrektiewe dienste, gemaak. Liebenberg beweer Groenewald sou gesê het sy lewe moet “hel gemaak word in die tronk.” Hy het ook glo gesê hy is met aanranding gedreig en verdink daarvan dat hy ‘n selfoon in sy besit gehad het en is behoorlik deursoek.
Nuusflits het voorheen berig Louis Petrus Liebenberg (60), Desiree Liebenberg (50), Magdelena Petronella Kleynhans (54), Johannes Petrus Badenhorst (41), Helena Dorothea Amy Schulenburg (59), Adriaan Dewald Strydom (35), Christelle Badenhorst (42), Nicolize van Heerden (58) en Walter Niedinger (55) het in die Bronkhorstspruit-landdroshof voorgekom.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die nege verdagtes staan tereg op 42 aanklagte van bedrog (alternatiewelik diefstal), 5 aanklagte van rampokkery, 6 aanklagte van geldwassery en verskeie statutêre misdade, wat oortredings van die Maatskappywet insluit. Meer aanklagte sal geformuleer en in ‘n latere stadium bygevoeg word.
Na bewering het Liebenberg 15 maatskappye gestig waarvan sy gewese meisie, Kleynhans, en die res van die beskuldigdes, wat óf familie óf naby verwant is, direkteure is.
“Gedurende 2020 het Louis Petrus Liebenberg en Magdelena Petronella Kleynhans ‘n maatskappy, Tariomix, geregistreer waarvan hulle albei direkteure was. Nog ‘n maatskappy, Forever Zircon, is in 2021 geregistreer. Beide hierdie maatskappye was na bewering betrokke by die koop en verkoop van diamante. Potensiële beleggers is deur sosiale media en radio-onderhoude gelok om in die koop en verkoop van diamante te belê en is ook hoë opbrengste oor ‘n kort tydperk belowe deur ‘n kontantlose platform genaamd AE Switch te gebruik. Duisende beleggers het betalings in die platform gemaak ten bedrae van ongeveer R4,5 biljoen.”
“Die beskuldigde het die opbrengste van die diamantbeleggingskema aangewend om roerende en onroerende bates te koop, dit sluit twee myne, verskeie motorvoertuie, te wete ‘n Ford-bakkie, BMW 230i Sport, Toyota Agya, Krugerrande en silwer munte in. Dit het ook vir Liebenberg se weelderige troue en wittebrood in Griekeland betaal. Verskeie onroerende eiendomme, insluitend ‘n kantoorblok, is ook aangekoop.”
“Toe sommige beleggers nie die beloofde betalings ontvang nie, het hulle agterdogtig geraak en sake by die SAPD aangemeld, met die vermoede dat hulle bedrieg is. Die ondersoek word deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), saam met die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC), Batebeslagleggingseenheid (AFU), Price Waterhouse Coopers (PWC) en die NVG se georganiseerde misdaadeenheid gedoen. Die multi-agentskap-benadering tot die aanklaer-geleide ondersoeke het die belangrike deurbraak in hierdie gesindikeerde kommersiële misdaad opgelewer.”
Mahanjana sê die saak val binne skedule 5 van die strafproseswet.
Die staat het nie borgtog ten opsigte van beskuldigdes (2) Kleynhans, (4) Schulenburg en (8) Niedinger, teengestaan nie. Kleynhans en Schulenburg is elk op R20 000 borg en Niedinger op R100 000 borg vrygelaat met die voorwaarde dat hulle paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig word.