OOS-KAAP. – Die liggaam van ‘n onbekende man is vanoggend op Sardiniastrand ontdek waar dit uitgespoel het. Die polisie vra hulp om hom uit te ken.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê gemeenskapslede het die polisie omsreeks 08:15 van die liggaam laat weet. Die man was in ‘n duikpak geklee en is vermoedelik in sy 30’s. Daar was ‘n oop wond aan die agterkant van sy kop.
Janse van Rensburg sê ‘n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die man se dood vas te stel.
“Enigiemand wat kan help om die familie van die oorledene op te spoor, of hom dalk kan identifiseer, word gevra om die Walmer-polisie by 082 442 1514, Crime Stop by 08600 10111 of die naaste polisiestasie te bel. Inligting kan ook deur die MYSAPS-toep gestuur word. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word, en bellers kan kies om anoniem te bly.”
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.





