MPUMALANGA. – Die liggaam van Yolanda Mujovo (6), wat vermis was, is Vrydagaand in die bosse langs die Mathafeni-begraafplaas buite Nelspruit gevind. Sy is deur haar familie uitgeken.
Brig. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Yolanda het Maandagaand vermis geraak. Haar pa het haar omstreeks 20:40 saam met haar jonger sussie (4) by hul woning in Mathafeni gelos om inkopies by ’n nabygeleë winkeltjie te gaan doen. Hy het glo die kinders aangesê om die sinkhuisie vir hulle veiligheid toe te sluit. Met sy terugkoms het hy opgemerk dat die deur nie behoorlik gesluit was nie en dat Yolanda nie in die huis was nie. Net sy jonger kind was alleen in die huis. Die pa het sy jonger dogter gevra waar haar suster is, maar sy kon nie sê nie.
’n Soektog is die aand en die volgende dag sonder sukses saam met bure van stapel gestuur. Die meisie is toe by die Nelspruit-polisiekantoor as vermis aangemeld. Verskeie polisiedienste is ook sonder sukses by die soektog betrek.
Mdhluli bevestig die polisie en paramedici het Vrydagaand inligting ontvang oor die liggaam van ’n kind wat in die bosse gevind is. Mediese personeel het bevestig dat die kind reeds oorlede was. ’n Saak van moord is geopen. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die kind moontlik ook verkrag is. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand om na vore te kom met relevante inligting wat kan help om die verdagte(s) vas te trek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





