LIMPOPO. – Die liggaam van ‘n bejaarde vrou (86) is Woensdag omstreeks 12:00 in bosse langs ‘n rivierstroom aangetref.
Kol. Malesela Ledwaba sê die oorledene het Donderdag haar huis in Sekgopo verlaat sonder om vir iemand te sê waar sy heengaan. Haar familie het haar Vrydag as vermis aangegee. Tydens ‘n soektog is op die vrou se liggaam afgekom. Die vrou is deur ‘n naasbestaande geïdentifiseer. Nood- mediese dienste het haar op die toneel dood verklaar. Modjadiskloof-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
“Die oorsaak van dood is in hierdie stadium onbekend en die slagoffer het geen sigbare wonde gehad nie. ‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.”
Die polisie se ondersoek duur voort.

