LIMPOPO. – Liggaamsdele van ‘n 87-jarige vrou is Saterdag, omstreeks 15:00 deur die polisie in plastiekemmers in haar huis in Sebora aangetref.
Kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die Mashashane-polisiekantoor buite Polokwane in die Capricorn-distrik het die oorledene se seun (40) na aanleiding van die wrede moord in hegtenis geneem.
Die polisie het Saterdag op ‘n klag van ‘n buurman wat bekommerd was omdat hy die 87-jarige vrou vir meer as twee dae nie gesien het nie. Die polisie is onmiddellik na die woning van die vrou waar hulle op die skokkende toneel van die liggaamsdele in plastiekemmers afgekom het. Verskeie voorwerpe wat glo in die pleeg van die misdaad gebruik is, is ook op die toneel gevind.
Die verdagte (die oorledene se seun) kon nie ‘n verduideliking vir die misdaadtoneel gee nie en is onmiddellik in hegtenis geneem. Hy sal Maandag op ‘n aanklag van moord in die Seshego-landdroshof voorkom. Die motief agter die voorval word tans deur die polisie ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





