LIMPOPO. – Die verbrande liggame van ‘n vrou (23) en ‘n babaseun (8 mnde.) is Donderdag, in wat ‘n geval van gesinsgeweld blyk te wees, in ‘n gebrande huis in die Ritavi-polisiëringsgebied gevind.
Brig. Hlulani Mashaba sê polisielede is na ‘n huis wat brand, ontbied. Die Tzaneen-brandweer het die brand geblus, waarna die liggame ontdek is.
“Voorlopige ondersoek het ongewone gedrag voor die brand deur ‘n 27-jarige verdagte aan die lig gebring. Volgens getuies het hulle ongewone optrede soos die verskuiwing van meubels opgemerk. Daar was ook ‘n ongewone reuk in die huis.”
Mashaba sê kort na die ongewone gedrag opgemerk is, het rook uit die huis gekom en die verdagte het gevlug. Die twee slagoffers, wat op besoek by die verdagte was, is op die toneel dood verklaar.
“Die verdagte is met die hulp van die gemeenskap aangekeer en staan nou tereg op twee aanklagte van moord en gesinsgeweld.”
Wanneer die ma en baba gesterf het, sal deur die polisie se ondersoek bepaal word.
Die verdagte sal Maandag in die Nkowankowa-landdroshof voorkom.