GAUTENG. – Busisiwe Dladla (47), ‘n geldskieter, is deur die Johannesburg-hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Mzwandile Konki in Randburg. Dladla het aan Konki R15 000 geleen en rente gehef. Die feit dat hy nie die lening kon terugbetaal nie, het sy dood gekos. Dladla is skuldig aan twee aanklagte van ontvoering, marteling, moord, afpersing en geldwassery.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê luidens ‘n verklaring Konki is aanvanklik op 5 September 2022 ontvoer en later vrygelaat, maar op 9 September 2022 weer ontvoer en na Dladla se huis geneem. Hy is daar aangehou terwyl sy familie onder druk geplaas is om geld te betaal. Getuienis in die hof het getoon dat Konki tydens die tweede ontvoering deur vier mans wat glo deur Dladla gehuur is, gemartel en aangerand is. Hy is op 10 September 2022 aan sy beserings dood.
Die hof het ook bevind dat geld wat van die familie afgedwing is, in die rekening van Dladla se dogter, Sinethemba Dladla (25), gestort en later na haar suster, Cebisile Dladla (41), oorgeplaas is. Albei is aan geldwassery skuldig bevind. Busisiwe Dladla het ontken dat sy die ander verdagtes ken. Die hof het WhatsApp-bewyse oorweeg wat Dladla direk aan die oortreders verbind het. Haar weergawe is deur die hof verwerp.
Die vonnisoplegging sal op 15 April voortgaan. Dladla bly in aanhouding, terwyl die ander twee beskuldigdes op borgtog is.





