GAUTENG. – 16 leerlinge van Laerskool Emmangweni in Tembisa moes Woensdag inderhaas mediese hulp kry, nadat hulle atjar wat by ‘n leerling gekoop is, geeët het. Al die leerlinge is behandel en ontslaan.
Steve Mabona sê Matome Chiloane, die LUR van die departement, is bekommerd oor leerlinge wat van kos siek raak. Voorlopige ondersoek dui aan die leerlinge van Laerskool Emmangweni het net na pouse oor duiseligheid en naarheid by die kantoor gekla. Die kinders, tussen 11 en 15 jaar oud, het gesê hulle het die atjar by ‘n leerling gekoop. Die leerling het dit namens ‘n vrou wat ‘n lid van die Community Work Programme (CWP) is, verkoop.
Nooddienste het die 16 leerlinge, in die teenwoordigheid van hulle ouers, na verskeie mediese fasiliteite vervoer. 10 van die leerlinge is gestabiliseer en is ontslaan. Drie leerlinge is later by Tembisa-hospitaal en nog drie by Esangweni-kliniek ontslaan.
“Ons is diep bekommerd oor die toenemende aantal siektegevalle weens voedsel wat in ons skole aangemeld is. Die gesondheid en veiligheid van ons leerders is ons hoogste prioriteit. Ons werk nou saam met owerhede om die oorsaak van hierdie voorval volledig te ondersoek. Ons wens die geaffekteerde leerders ‘n spoedige herstel toe en sal die nodige psigososiale ondersteuning aan die gesinne en skoolgemeenskap in die breë verskaf,” sê Chiloane.





