GAUTENG. – Chane Bezuidenhout (2) het op 11 Mei 2021 aan beserings weens mishandeling deur haar ouers gesterf. Stefan Bezuidenhout (41) en sy vrou Belinda (30) is Donderdag skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die ouers is deur die Johannesburg-hooggeregshof gevonnis vir misdade wat die kleutermeisie (2) en haar broer (6) in Alberton-Noord in Ekurhuleni as slagoffers moes verduur. Die egpaar het op aanklagte van kindermishandeling, verkragting en moord tereggestaan.
Die ma is tot twee keer lewenslange tronkstraf en addisioneel 15 jaar opgelê, terwyl die pa lewenslange tronkstraf en 30 jaar addisioneel gevonnis is. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
“Die ontstellende geskiedenis van die saak het in 2018 begin toe die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) die twee minderjariges uit hul ouers se sorg weens bewerings van nalatigheid, dwelmmisbruik en kindermishandeling verwyder het. Ongelukkig het die ouers in Desember 2020 na ‘n kinderhofbevel toesig teruggekry.”
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die meisie gesterf het.
Sers. Steven Vukeya het ‘n patroon van mishandeling tussen 2018 en 2021 ontbloot.
“Besonderhede het onthul die egpaar het hul kinders aan ondenkbare marteling onderwerp, insluitend om in Julie 2018 kookwater oor hul sesjarige seun uit te gooi. Die kinders is herhaaldelik met verskeie voorwerpe geslaan, ontlasting is op hul liggame gevryf en hulle is gedwing om hul braaksel te eet. Die pa het ook die tweejarige meisie in die teenwoordigheid van die ma verkrag. Hierdie mishandeling het ongehinderd voortgeduur.”
Mjonondwane sê die verslag van die proefbeampte het die pa se geskiedenis van dwelmmisbruik, insluitend veelvuldige pogings tot rehabilitasie deur die jare uitgelig. Verder het die verslag ‘n voorheen ongerapporteerde geskiedenis van seksuele misbruik wat hy as kind ervaar het, blootgelê.
Tydens vonnisoplegging het die ma berou uitgespreek, die familie om verskoning gevra en die hof gevra om haar berou in ag te neem.
“Sy het egter die bewering dat sy haar dogter verwurg het, ontken.”
In teenstelling met die ma het die pa verkies om nie te getuig nie.
“Die verdedigingsadvokaat het om toegeeflikheid gepleit en beklemtoon die egpaar het berou en voorgehou die ma is ‘n relatiewe jong ouer met twee ander kinders wat van haar afhanklik is.”
Adv. Riana Williams, staatsaanklaer, het egter die pleidooi teengestaan.
“Williams het beklemtoon dat die skending van kinders se onskuld ‘n misdaad is wat ‘n strawwe straf verdien, veral as die omvang daarvan in ag geneem word.”
“Regter Mokate Noko het met die uitspraak van die vonnis opgemerk die egpaar het met ‘n gemeenskaplike doel opgetree, misdade in mekaar se teenwoordigheid gepleeg en opsetlik die plig geïgnoreer om die voorvalle aan te meld. Die hof het hul gebrek aan berou uitgelig en die samelewing se verwagting om beskerm te word teen individue soos die beskuldigdes erken. Regter Noko het die regstelsel se rol om beide die voorkoming en afskrikking van sulke gruwelike aktiwiteite te verseker, bevestig.”
Die Facebook-blad intro van Belinda Stefan Bezuidenhout lees: “******* en Chane’ mamma en Pappa het julle twee precious liefies ongelooooooflik baie lief.”