GAUTENG. – ‘n Ma (40) van Dunottar is agt jaar tronkstraf vir die moord en poging tot moord op haar kinders in die Pretoria-hooggeregshof wat in Benoni sit, opgelê. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat sy nie weer aan moord skuldig bevind word nie.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die ma het op 6 Junie 2022 vir haar kinders kos met gif ingegee, waarna haar seun (16) dood is en haar dogter (7) oorleef het. Sy het geld met ‘n bedrogspul verloor en kon nie haar kinders se skoolfonds betaal nie. Boonop is sy met ‘n siekte gediagnoseer.
Sy het op die betrokke dag met die kinders Vrystaat toe gery nadat sy hulle vergiftigde kos gegee het. Toe die kinders in Frankfort begin siek word, het sy by ‘n vulstasie gestop en hulp gevra en gesê wat sy gedoen het. Nooddienste is ontbied en die kinders is na die Frankfort-hospitaal vervoer waar die seun dood is. In die hof het sy gesê sy het ‘n dokter by die hospitaal vertel wat sy gedoen het.
Die polisie is ontbied, sy is gearresteer en later op borg vrygelaat. Ter versagting van die vonnis het die ma gevra daar moet van die voorgeskrewe lewensvonnis afgewyk word, omdat sy haar dogter moet versorg. Sy het verder genoem sy het berou oor haar dade en was weens haar siektediagnose ten tyde van die insident nie in die regte gemoedstemming nie.
Adv. Jeffery Nethononda het die hof gevra om die erns van die misdaad teen kinders met die vonnis te reflekteer en nie van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie. Die kinders se pa het slagofferimpakgetuienis oor die verlies van sy seun gelewer. Waarnemende regter Van der Westhuizen het bevind daar is wesenlik en oortuigende omstandighede om van die voorgeskrewe lewensvonnis af te wyk.
“Die hof het die ma se opregte berou, die feit dat sy die primêre versorger van haar oorlewende kind is, die verraad en die emosionele trauma wat sy deur die pa van haar dogter gely het, en haar geestesgesondheidsuitdagings, insluitend depressie, ten tyde van die voorval in ag geneem.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





