WES-KAAP. – Drezene Jonkerman (39), wat Ashwin Jonkerman (7), haar seun, op 11 Augustus 2024 verwurg het, toe sy die kind se pa in haar gedagtes gesien het, is deur die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind en tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Jonkerman het in ’n pleitooreenkoms met die staat aan die hof verduidelik dat die voorval op haar verjaardag by haar huis in Korhaanlaan, Oudtshoorn, gebeur het. Daar is voorberei om kerk toe te gaan toe ‘n vriend haar besoek het en hulle saam dwelms gebruik het. Ná die vriend se vertrek het sy voortgegaan met haar voorbereiding en die seun wakker gemaak om hom te was. Luidens haar verklaring het sy tydens die was aan die oorledene se pa gedink en beweer dat sy die pa se gesig in haar gedagtes op die kind gesien het. Sy het woedend geword en hom begin wurg totdat sy liggaam slap geword het. Daarna het sy hom slaapkamer toe gedra en kerk toe gegaan.
By haar terugkeer het sy die liggaam steeds op die bed aangetref en het toe ‘n buurvrou en ambulans ontbied, wat bevestig het dat hy dood is. Jonkerman het erken dat sy geweet het haar optrede kon tot haar kind se dood lei en dat sy die bedoeling gehad het om hom dood te maak. Sy het ook erken dat daar geen wettige rede vir haar optrede was nie.
Ter versagting het die ma, wat nog twee minderjarige kinders het, aangevoer dat sy en die oorledene se vader ’n moeilike verhouding gehad het waartydens hy haar glo aangerand en verkrag het. Sy het beweer dat sy dit weens finansiële afhanklikheid nie aangemeld het nie. Goulding Hyron, die streekhofaanklaer, het egter betoog dat die pa hierdie bewerings ontken en dat daar geen klag teen hom ingedien is nie. Die pa het erken dat hulle saam dwelms gebruik het, maar beweer dat haar verslawing toegeneem het tot so ’n mate dat sy begin het om kruideniersware en meubels vir dwelmgeld te verkoop. Hy het die verhouding beëindig en is maande later in kennis gestel dat sy hul kind vermoor het.
Volgens Hyron het die moord die vader en die oorledene se minderjarige sibbe getraumatiseer. Hy het dit as ’n gruweldaad beskryf en beklemtoon dat die gemeenskap steeds geskok is oor die wyse waarop ’n moeder haar kind doodgemaak het. Hy het verder aangevoer dat die beskuldigde die oggend dwelms gebruik het, haar kind vermoor het, en toe kerk toe gegaan het sonder om mediese hulp vir die kind in te roep.
Ntabazalila sê die hof het Jonkerman tot 25 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat sy nie in daardie tyd weer aan moord skuldig bevind word nie. Sy moet twee derdes van haar vonnis uitdien voordat parool oorweeg kan word. Die hof het haar ook onbevoeg verklaar om in die toekoms met kinders te werk en om ’n vuurwapen te besit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





