INTERNASIONAAL. – Die liggaam van Shiri Babas (32) is aan Israel oorhandig ‘n dag nadat die liggaam van ‘n onbekende vrou saam met dié van die twee Bibas-kleuters deur Hamas aan Israel gestuur is.
‘n Verklaring deur die Bibas-familie het vanoggend (Saterdag) bevestig die oorskot wat nou ontvang is, is deur die instituut van geregtelike geneeskunde geïdentifiseer en is inderdaad dié van Shiri.
Die liggaam van ‘n onbekende Palestynse vrou is aanvanklik saam met dié van Shiri se seuns, Kfir (9 mnde.) en Ariel (4) oorhandig. Dit het gedreig om die Gaza-wapenstilstandooreenkoms in die wiele te ry; die Israeliese regering was woedend oor die fout. Die instituut van geregtelike geneeskunde het ook vasgestel die seuns is nie doodgeskiet nie, maar brutaal met die hand vermoor.
Shiri, Yarden (35) en hulle seuns was sedert 7 Oktober 2023 gyselaar gehou deur Hamas, waarna Yarden vroeër die maand vrygelaat is. As deel van ‘n eerste fase wapenstilstand is ooreengekom om die liggame van die ma en haar kinders aan Israel vry te stel nadat hulle volgens Hamas reeds in November 2023 tydens ‘n Israeliese lugaanval gedood is. Hamas het Donderdag ingestem om hulle liggame saam met dié van Oded Lifshitz (83) te oorhandig, maar ‘n verkeerde vroulike liggaam is saam met die ander drie afgelewer.
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Vrydag belowe Hamas gaan betaal vir die “oortreding” van die wapenstilstandooreenkoms.
Basem Naim van Hamas se politieke buro het in ‘n verklaring gesê dit is nie in hulle belang om die liggame te hou nie en het die fout met die oorskot aan ‘n bomaanval deur Israel toegeskryf. Tydens ‘n aanval kon liggame van gyselaars en Palestyne deurmekaar raak, aangesien nog duisende onder rommel begrawe is. Ismail al-Thawabta, die direkteur van die mediakantoor van Hamas in Gaza, sê die eerste minister van Israel, Netanyahu, is verantwoordelik vir Shiri en haar kinders se dood.
Daar word verwag dat ses lewende aangehoudenes van Israel Saterdag (vandag) vir 602 Palestyne wat in Israeliese tronke is, vrygelaat sal word. Onderhandelinge vir die tweede fase van die wapenstilstand sal na verwagting eersdaags begin.
Bronne: Al Jazeera, ABC News, CNN, Sky News Australia en BBC





