Ma wat kinders vermoor, gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Lehlogonolo Mary Bokaba (29) van Saulsville in Pretoria is tot 10 jaar direkte gevangenisstraf vir elk vir die moord op haar dogters, agt jaar en twee maande, deur die hooggeregshof gevonnis.

Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG sê die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, nadat Bokaba op 13 Mei 2024 skuld beken het. Bokaba het met haar dogters by die baba se pa in ‘n agterkamer in die erf by sy ouerhuis gewoon toe sy uitgevind het hy is ontrou. Hy het ook nie met die kinders gehelp nie.

In Mei 2022 het Bokaba besluit om haar man te verlaat en haar ma gebel om haar te help trek. Sy het aan die hof vertel sy het die betrokke oggend egter so oorweldig gevoel, sy het besluit om haar en haar kinders se lewens te beëindig. Sy wou die kinders van ‘n lewe sonder haar spaar en het hulle met ‘n koord opgehang. ‘n Poging om haarself op te hang, was onsuksesvol. Sy het die kinders losgemaak en op die bed gesit, waarna sy haar skoonma ‘n missed call gegee het. Die skoonma het ondersoek ingestel, omdat Bokaba ook nog nie die oggend vir die kinders in die huis gaan kos maak het nie. Bokaba se skoonma het die kinders se liggame op die bed gevind. Die polisie is gebel en Bokaba is sedertdien in aanhouding.

Adv. Piet Luyt het tydens vonnisoplegging vir ‘n verswarende straf getuig oor die erns van die misdaad en slagoffers wat nog steeds getraumatiseer is.

Regter Mashudu Munzhele het egter bevind daar is omstandighede wat toelaat om van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar af te wyk. Bokaba het nie die hof se tyd gemors nie, sy het skuld beken en is ‘n eerste oortreder. Munzhele het voorts gesê Bokaba het die misdrywe uit emosionele nood gepleeg en ‘n pleidooi gemaak dat vroue wat voel hulle het geen ander uitweg nie, gehelp moet word.

Die NVG verwelkom die vonnis.