GAUTENG. – Die Madlanga-kommissie is vir die dag verdaag, omdat lt.genl. Dumisani Khumalo, die afdelingskommissaris vir misdaadinligting, ongesteld is en mediese sorg ontvang.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die polisie, het Khumalo siek gevoel toe hy by die Brigitte Mabandla Justice College, ‘n staatsinstelling in Pretoria, waar getuienis voor die kommissie afgelê word, opgedaag het waar hy sy getuienis moes voortsit. Volgens Masemola volg Khumalo die raad van sy dokter. Die Madlanga-kommissie sal op hoogte gehou word oor wanneer hy weer geskik sal wees om getuienis voort te sit.
Mathe sê die polisiediens versoek privaatheid vir die generaal tydens sy herstel.





