WES-KAAP. – ‘n Nigeriër (48) en nog ‘n man (55) is Donderdag in die vroeë oggendure op verskeie persele in die Makhaza-polisiëringsgebied deur lede van die teen-kapingspan in hegtenis geneem. Die polisiebeampes het inligting oor dwelms ontvang, waarna operasies geloods is.
AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring inligting is ontvang oor ‘n perseel waar dwelms onlangs afgelewer is. Polisielede het op ’n perseel in Blok 65 toegeslaan en dit deursoek. Die Nigeriese man is met 250 g tik en twee eenhede kokaïen op die perseel aangetref en is vir handel in dwelms in hegtenis geneem.
Tydens deursoeking by ’n tweede perseel is ’n man met 115 Mandrax-tablette, ses halwes, sewe kwarte en 42 pakkies tik betrap. Hy is ook vir dwelmhandel in hegtenis geneem.
Beide verdagtes sal na aangekla word en daarna in die Khayelitsha-landdroshof verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





