WES-KAAP. – ‘n Man (22) van Kranshoek het Sondag in Stilbaai, naby Robberg-natuurreservaat, in die see vermis geraak.
Die NSRI sê diensbemanning van Plettenbergbaai het deur ‘n WhatsApp-groep van die gemeenskap inligting van ‘n verdrinking in Stilbaai ontvang. Die man se vriend, ook van Kranshoek en sowat 30 jaar oud, het hom vir hulp na ‘n huis op ‘n plaas bo ‘n gewilde staproete en visvangstrook gehaas.
Hy het sy vriend sonder sukses probeer red en moes as gevolg van ‘n gebrek aan selfoonsein ‘n groot afstand aflê om hulp te soek, wat waardevolle tyd laat verlore gaan het.
Rolspelers, wat die polisie, mediese nooddienste, reddingswemmers en ‘n helikopter insluit, is geaktiveer en twee NSRI-vaartuie lanseer.
“Duran de Villiers, ‘n plaaslike barmhartige Samaritaan, het, toe hy van die voorval hoor, met sy privaat boot vanaf Knysna reageer en het sy hommeltuig saamgeneem om die NSRI en die nooddienste by te staan.”
De Villiers is vir sy vrywillige hulp in die uitgebreide soektog geprys.
Die man kon die polisie wys waar sy vriend deur branders van rotse gevee is. ‘n Soektog in rowwe seetoestande het niks opgelewer nie.
Die polisie se watervleuel is ontbied en sal met die soektog voortgaan en ook die omstandighede van die insident ondersoek.
Die vriend wat hulp gaan soek het, is vir behandeling vir skok per ambulans na ‘n hospitaal vervoer.





