OOS-KAAP. – ‘n Man (37) van Sakhele in Qunu is Vrydagoggend omstreeks 04:00 dood in ‘n Toyota Quantum aangetref. Hy is glo met ‘n skoenveter verwurg, waarna ‘n verdagte (45) wat spraakgestrem is, omstreeks 12:00 in hegtenis geneem is.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring daar word beweer dat die slagoffer onder die invloed van alkohol was en in die voertuig geslaap het. Dit is waar hy glo deur die verdagte met die skoenveter verwurg is. Voorlopige ondersoeke het die oorledene se persoonlike besittings by die verdagte gevind. Die verdagte, wat slegs met behulp van ’n gebaretaaltolk kommunikeer, beweer dat hy uit wraak opgetree het omdat die oorledene hom voorheen met ‘n skerp voorwerp gesteek het.
Die beskuldigde het Maandag op ‘n aanklag van moord in die Bityi-landdroshof verskyn.





