MPUMALANGA. – ‘n Man is deur die gemeenskap beetgekry, nadat daar geglo is dat hy moontlik vir ‘n 3-jarige se verkragting in Desember 2024 verantwoordelik was. ‘n Saak is Sondag 2 Februarie deur die meisie se ma oopgemaak, maar dit is nie op die hofrol geplaas nie.
Brig. Donald Mdhluli sê die meisie is na bewering in Siyabuswa verkrag en die saak word deur Kwamhlanga-GKS ondersoek. GKS het die meisie vir ‘n mediese ondersoek geneem en in dié tyd is daar verneem ‘n man wat glo vir die misdaad verantwoordelik is, is aangekeer en deur lede van die gemeenskap aangerand. Die verdagte is na die polisiestasie geneem, inligting is van die ouers verkry en die dossier is aan die senior staatsaanklaer van die hof voorgelê. Die saak is egter nie op die rol geplaas nie en die beweerde verdagte is vrygelaat.
“Daar moet kennis geneem word dat daar hoegenaamd geen borgtog deur die aangekeerde man betaal is nie, al is dit verkeerdelik deur sommige lede van die publiek beweer. Daarbenewens is die kind ook vir waarnemingsprosedures met betrekking tot die beweerde voorval geneem. Ons wil dit kategories stel dat die GKS-speurders ‘n deeglike ondersoek na die beweerde voorval gedoen het, terwyl die kind se beste belange geprioritiseer is, ten spyte van enige onregverdige kritiek wat moontlik teen ons span gelewer is.”
Mdhluli verseker die publiek die polisie is daartoe verbind om aangemelde sake van seksuele aanranding en verkragting, veral waar kinders betrokke is, te ondersoek. Diegene met klagtes oor bewerings teen polisiebeamptes word versoek om na vore te kom, aangesien nog geen klagtes van wangedrag teen polisielede aangemeld is nie.
“Verkragting is ‘n diep traumatiese ervaring, veral vir kinders, en die publiek word versoek om die onbedoelde en negatiewe gevolge wat bewerings op die toekoms van die betrokke kind kan hê, in ag te neem. Ons doelwit bly om ons gemeenskappe met integriteit en professionaliteit te dien en te beskerm,” sê maj.genl. Zeph Mkhwanazi.





