Man doen steekwonde in plaasaanval op

Lees ook :

Foto's: AfriForum Overstrand Gemeenskapsveiligheid

WES-KAAP. – ‘n Man en vrou is Vrydagaand omstreeks 22:00 op Stanford (ongeveer 25 km vanaf Hermanus) deur drie vermeende rowers met handskoene en met klapmusse vermom, oorval.

Sers. Wesley Twigg bevestig aan Nuusflits die Stanford-polisie het ‘n huisroofsaak geregistreer. Twigg sê die insident het Saterdagoggend omstreeks 02:40 op Wortelgat plaasgevind. Drie verdagtes het die klaers se woning binnegegaan, hulle vasgebind en daarna met juwele, selfone en ‘n skootrekenaar van die toneel gevlug. ‘n Verdagte is op aanklag van roof gearresteer en sal nadat hy aangekla is in die Hermanus-landdroshof voorkom.

Volgens ‘n plasing van Lourens Theron van AfriForum Alfa Buurtwag is die man in die bene gesteek. Die man en vrou is vasgebind en in ‘n bebloede kamer gelos. Die verdagtes het daarna met die gesteelde buit van die toneel gevlug. Die man kon later daarin slaag om los te kom en hulp te ontbied, waarna Stanford-polisie, Stanford Sekuriteit en APS Sekuriteit hulle na die misdaadtoneel gehaas het. HPP/Hermanus SRA Beheer het om 05:30 twee verdagtes in Bergweg, Hermanus in bosse aan die berg se kant sien verdwyn. Nadat AfriForum Alfa Buurtwag ‘n hommeltuig geloods het, is ‘n verdagte binne 10 minute opgespoor en in hegtenis geneem.

Volgens die plasing het Overberg-polisiedistrik se gesamentlike operasionele sentrum laat weet die verdagtes is moontlik dié rowers wat in verband met die aanval deur Stanford-speurtak gesoek word. Tydens die ondersoek is die gearresteerde verdagte met die roof verbind. Die ondersoek duur voort.

Alle rolspelers is bedank en spesiale vermelding is van AO Payn van Stanford-speurtak vir sy entoesiasme om die saak vinnig op te los, gemaak.

Bronne: AfriForum Overstrand Gemeenskapsveiligheid, SAPD en Gansbaai (Uncut)-Facebookblad

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief