OOS-KAAP. – ‘n Onbekende man wat glo probeer het om koperkabels te steel, is Saterdag, net na middernag, in Algoastraat, Kariega, doodgeskok.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê Kariega-speurders is op soek na naasbestaandes van die oorledene, wat in ‘n blou broek en ‘n donkerblou baadjie geklee was.
Die polisie het in Algoastraat, Kariega, op die oorledene, tussen 25 en 30 jaar, afgekom. Daar is op ‘n ystersaag, mes en rugsak op die toneel beslag gelê.
Enigiemand met inligting om die oorledene te identifiseer of weet waar om met naasbestaandes in verbinding te tree, kan speur.sers. JP Smith by 071 475 2230 bel.
Nuusflits is in besit van grafiese beeldmateriaal van ‘n insident, maar het ‘n redaksionele besluit geneem om dit nie te plaas nie. Dit is onbekend wie die video geneem het.



