Man gevonnis vir aflaai en besit van kinderpornografie

Lees ook :

Foto: NVG

WES-KAAP. – Corné van Rooyen is deur die Bluedowns-streekhof tot 12 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuld beken het vir die aflaai, besit en verspreiding van kinderpornografie. Hy het erken dat hy 453 foto’s en video’s van kinderpornografie via die sosiale media-toepassing Viber afgelaai en versprei het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sê Van Rooyen is deur die VSA se departement van binnelandse veiligheid ondersoek en sy betrokkenheid in die misdaad is sodoende aan die lig gebring. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en sy naam is in die nasionale register van seksuele oortreders opgeteken.

‘n Klopjag is op 18 Januarie 2024 op Van Rooyen se woning uitgevoer, waar onwettige vuurwapens, ammunisie en bewyse van dieremishandeling gevind is. Hy het ook beskermde spesies sonder ‘n permit besit. In ’n pleitooreenkoms met die staat het Van Rooyen aan tien oortredings skuld beken, insluitend die besit van kinderpornografie en die onwettige en opsetlike verspreiding daarvan, die opsetlike fasilitering van kinderpornografie, twee aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen, twee aanklagte van die onwettige besit van ammunisie, twee aanklagte van dieremishandeling en aktiwiteite wat met bedreigde of beskermde spesies sonder ’n permit verband hou.

Hy is vir al 10 aanklagte teen hom tot ’n totaal van 49 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die hof het beveel dat die vonnisse gelyktydig uitgedoen moet word. Van Rooyen sal effektief 12 jaar agter tralies deurbring. Ses selfone, drie USB-toestelle, drie geheuekaarte, ’n skootrekenaar en ’n eksterne hardeskyf wat gekonfiskeer is, is aan die staat verbeurd verklaar.

“Hierdie suksesvolle vervolging is die gevolg van deeglike ondersoekwerk,” het adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, gesê.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief