KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (25) is glo Saterdagmiddag in die Verulam-dorpsgebied as gevolg van ‘n parkering-dispuut met sy eie vuurwapen doodgeskiet.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die diens is omstreeks 14:00 vir hulp na die hoek van George Sewpersad/Moss- en Irelandstraat ontbied. Met aankoms by die parkeerarea is die man, wat in sy bors en skouer geskiet is, dood aangetref.
Die oorledene se kollega het verduidelik hulle het na bewering ‘n Hino-vragmotor in die oprit van ‘n sakeperseel parkeer om roomys aan ‘n plaaslike winkel te lewer. Die bestuurder van ‘n wit Isuzu-bakkie het hulle gekonfronteer omdat hulle glo die oprit versper. Die oorledene is na bewering deur die bestuurder van die bakkie en nog twee makkers aangerand. Tydens die beweerde aanranding is die oorledene se vuurwapen afgeneem en hy is twee keer geskiet. Nadat hy probeer vlug het, is hy ‘n derde keer geskiet. Die verdagtes het daarna gevlug.
Rusa sê die insident is deur verskeie ooggetuies gade geslaan. Een van die verdagtes het na die toneel teruggekeer en homself en die vuurwapen van die oorledene aan reaksiebeamptes oorhandig.
Verulam-polisie het die verdagte gearresteer.





