VRYSTAAT. – Calvin Johnson (50) van Heidedal is Sondag omstreeks 18:00 in Dr. Belcherstraat in die kop geskiet, waarna hy oorlede is.
Sers. Mahlomola Kareli sê vroeër die dag het die gemeenskap ‘n vreedsame optog na die polisiestasie onderneem om ‘n memorandum oor dienslewering te oorhandig. Ure na die optog is skote gehoor wat die polisie se aandag getrek het, omdat die toneel op die optogroete was. Volgens getuies het ‘n swart VW Amarok en ‘n silwerkleurige luikrugvoertuig glo van die toneel weggejaag nadat die skote gehoor is.
Parkweg-misdaadvoorkoming en Bloemfontein-blitspatrollie het onmiddellik na die verdagte voertuie begin soek. Die Amarok is by ‘n vulstasie in Nelson Mandelastraat opgemerk, waar drie mans gearresteer is. ‘n Vuurwapen van een van die verdagtes is gekonfiskeer en sal ballistiese toetsing ondergaan. Daar word nog na die ander voertuig en sy insittendes gesoek.
Die polisie maan die gemeenskap om nie die verdagtes te nader nie, aangesien hulle as gevaarlik en gewapen beskou word.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om kapt. Jacques Wilson by 061 501 8007 te bel.





