OOS-KAAP. – Brian Scharneck (33) is vir die moord op sy lewensmaat, Marilyn Maarman (38), by hul huis op die plaas Elandsrift waar hulle saam gewoon het, deur die Nxuba-streekhof (voorheen Cradock) tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Luxolo Tyali, woordvoerder van die NVG, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits mede-plaaswerkers het op 30 September 2023 opgemerk dat Maarman ernstige brandwonde aan haar kop en gesig opgedoen het. Hulle het ‘n ambulans ontbied uit kommer oor haar toestand. Sy is na ‘n hospitaal toe, maar is die volgende dag aan haar beserings oorlede.
Na haar dood het bewerings na vore gekom dat Scharneck haar fisiek aangerand het. Tydens die polisie-ondersoek het Scharneck erken dat hy haar van ontrouheid beskuldig het, haar met ’n keramiekbak geslaan, haar geskop en met sy vuiste bygedam het. Volgens hom het haar erkenning van die beweerde ontrouheid tot die aanval gelei, omdat dit hom woedend gemaak het.
Scharneck is op 2 Oktober 2023 in hegtenis geneem. Hy het later ingevolge die strafproseswet skuld op die aanklag van moord erken.
Makabongwe Seyibokwe, die streekhofaanklaer, het tydens vonnisoplegging beklemtoon dat die aanval wreed was en dat geslagsgebaseerde geweld geen plek in die samelewing het nie. Hy het uitgelig dat die slagoffer in haar eie huis, waar sy veilig moes gevoel het, aangeval is en dat die wreedheid van die aanval, gepleeg deur iemand wat sy vertrou het en met wie sy saamgewoon het, ’n totale minagting van haar waardigheid, lewe en menslikheid was.
Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolgings, het die vonnis verwelkom en gesê: “Hierdie lewenslange vonnis demonstreer die NVG se verbintenis tot geregtigheid vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld. Hierdie uitspraak stuur ‘n sterk boodskap dat sulke geweld met die volle mag van die reg hanteer sal word.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





