OOS-KAAP. – ’n Man (45) is deur die Mthatha-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van sy vrou in die teenwoordigheid van hul minderjarige dogter.
Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die misdaad het op 1 Januarie 2023 in KwaTshemese, naby Mthatha, plaasgevind. Die beskuldigde het sy vrou met ’n tuingraaf aangerand en daarna verkrag nadat sy geweier het om saam met hom te slaap. Hy het ook hul dogter aangerand toe sy probeer ingryp.
Daar was ‘n geskiedenis van huishoudelike geweld – die vrou het in November 2022 ‘n beskermingsbevel teen haar man verkry. Op die betrokke aand het die beskuldigde, wat besope was, die slagoffer gevra om saam met hom in ‘n aparte huis op die erf te gaan slaap. Sy het geweier en hy was woedend, maar het vertrek. Die vrou en drie kinders het die deur gesluit en in ‘n slaapkamer geskuil. Haar man het kort daarna die huis met ‘n graaf oopgebreek en sy vrou met die graaf aangerand. Hy het haar daarna gedwing om haar klere uit te trek en haar in die teenwoordigheid van hul dogter verkrag. Toe die dogter probeer ingryp, het hy haar ook aangerand. Die vrou is later na ‘n hospitaal geneem waar sy vir ’n week behandel is en berading by die Mthatha Thuthuzela Care Centre ontvang het. Die beskuldigde is eers in Mei 2023 by sy huis in hegtenis geneem.
Hy het aanvanklik skuld ontken, maar getuienis van die slagoffers en mediese verslae het die omvang van beserings bevestig. Benewens die lewenslange tronkstraf, is hy addisioneel tot drie jaar tronkstraf vir aanranding, vyf jaar vir die oortreding van ’n beskermingsbevel en vier jaar gevonnis vir die pleeg van ‘n seksuele misdryf ten aanskoue van ‘n minderjarige. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, bevestig met dié vonnis die NVG se verbintenis om oortreders van geslagsgebaseerde en huishoudelike geweld uit gemeenskappe te verwyder.