GAUTENG. – Conwell Mongezi Chauke (34) is deur die hooggeregshof in Pretoria vir die moord op Khothatso Welhelmina Tshabalala (11), lewenslank tronk toe gestuur.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Chauke is ‘n verdere ses jaar direkte tronkstraf vir ontvoering opgelê. Chauke sal beide vonnisse gelyktydig uitdien en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Chauke het op 29 Desember 2020 die oorledene se ma by die werk gebel en gedreig omdat sy hom nie die vorige dag wou ontmoet nie. Hy was haar gebedsmaat in hulle gebedsgroep, maar was in ‘n liefdesverhouding met haar geïnteresseerd. Later die dag is hy na die oorledene se huis in Mamelodi-Oos waar sy met haar dogters gewoon het. Die twee meisies is deur Chauke by die bure gevind waar hulle gespeel het.
Hy het die 11-jarige meisie na haar huis toe gelok waar hy haar 66 keer met ‘n skerp voorwerp gesteek het en met beddegoed op haar bed toegemaak het. Hy het daarna gevlug. Die bure, wat na die kind gesoek het, het op haar liggaam afgekom. Chauke het hom op 31 Desember 2020 by die Lyttelton-polisiestasie oorgegee, waar hy sedertdien in aanhouding was.
Mahanjana sê Chauke het op die ontvoeringklag onskuldig gepleit, maar op die aanklag van moord het hy skuldig gepleit met die verweer dat sy woede vir die ma van die kind tot sy aksies bygedra het. Die staat kon egter die teendeel bewys.
“Al het hy vorige veroordelings van diefstal, is hy ‘n eerste oortreder van geweldsmisdade. Ter verswaring van vonnis het die staatsaanklaer, adv. Sipho Lalane, aangevoer dat selfs al het Chauke skuldig gepleit op die aanklag van moord, hy nie berou getoon het nie, maar eerder spyt is oor sy optrede.”
Lalane het twee slagofferimpakverklarings van die ma en suster van die oorledene aan die hof oorhandig.
Regter Jacobus Johannes Strijdom het tydens vonnisoplegging gesê Chauke is ‘n gevaar vir die samelewing en dit is die hof se plig om die samelewing teen Chauke te beskerm.