Hy loop reeds sedert 2013 duisende kilometers om sy liefde vir die Here te wys. So vertel Patrick Styles, wat saam met sy vrou, Des, net buite Koster woon.
FiND iT het Styles 23km buite Kimberley op die N12 in die rigting van Ritchie gekry. Verbygangers het by hom stilgehou om hom voorspoed toe te wens. Hulle het ook vir hom verversings gegee.
Styles sê: “Ek loop sedert 2013 vir my liefde vir die Here. My doel is om tot in Kaapstad te loop, as dit die Here se wil is.” Hy het tot dusver meer as 484km vanaf Koster tot hiér gestap.
Styles het voorheen langs die Ooskus verby George, Port Elizabeth en Oos-Londen geloop. Hy sê hy sal volgende keer verby Durban wil stap.
“Ek het baie wonderwerke op my pad gesien. Te veel om op te noem. Net onlangs het ’n man in sy tagtigs vir die eerste keer sy hart aan die Here gegee. In nog ’n geval het ’n fris kêrel met depressie sy lewe omgedraai,” vertel hy.
Styles sê hy is nie deel van enige organisasie nie en het ook nie ’n blad op sosiale media nie.Tog skryf mense gereeld op hulle eie Facebook van hulle besigtiging van, of hulle ontmoeting met, die man wat in die strate met ’n houtkruis loop.
Op 21 Maart het Andre van der Merwe vir Styles tussen Christiana en Warrenton gewaar. Van der Merwe sê: “Dit was ’n wonderlik voorreg om die man te ontmoet. Hy stap met ’n houtkruis vir geloof. Na ‘n vinnige geselsie met water en ’n blaaskans het hy my weer met ander oë na die lewe laat kyk. Sterkte met jou reis. Dit wat jy doen is ’n inspirasie.”
Vroeër die jaar het Styles in die strate van Centurion geloop. Mighty Watchmen Centurion het Styles daarna uitgenooi om een van hulle weeklikse samekomste by te woon.
Op 20 September 2015 het Alanda Nagel vir Styles in Vishoek raak geloop. “Hy het vir my ’n klein houtkruis met ‘Jesus loves you…’ daarop geskryf gegee,” vertel Nagel.