DURBAN, KZN. – Philani Ronnie Gumede (36), wat verbonde was aan Operation Dudula, het gedurende Maart 2022 ‘n stemnota op WhatsApp gestuur wat geweld aanhits. Hy is in die Durban-streekshof skuldig bevind en gevonnis tot ‘n boete van R10 000 of drie jaar tronkstraf waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Gumede se stemnota wat aan mede- Operation Dudula lede gestuur is, het gelui: “Thunder and storm in the Durban CBD”.
Buitelandse burgers moes na aanleiding van die boodskap uit Durban verjaag word. Dié burgers se besighede sou die teiken wees. Alle inhoud sou verwyder word en dan sou die perseel agter slot en ketting toegesluit word.
Die WhatsApp-boodskap het eindelik die polisie bereik, waarna Gumede beken het hy het die boodskap gestuur. Daar is op sy selfoon beslag gelê en hy is in hegtenis geneem.
Nomalungelo Ntshangase het aan die hof voorgehou die stemboodskap het tot xenofobiese aanvalle gelei waartydens eiendom beskadig en geplunder is.
In die eerste saak van sy soort in Durban is Gumede skuldig bevind aan oortreding van Artikel 14 van die Wet op Kubermisdaa 19 van 2020. Dit behels die bekendmaking van ‘n databoodskap wat skade aan eiendom of geweld aanhits.
Die NVG het die vonnisoplegging verwelkom en sê: Die verspreiding van boodskappe van hierdie aard is gelykstaande daaraan om die reg in eie hande te neem en sulke wetteloosheid sal nie deur die howe geduld word nie.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





