NOORDWES. – ‘n Verdagte (40) is Dinsdag op twee aanklagte van moord en nog twee van poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy tydens protesaksie in Ipelegeng Uitbreiding 5 geskiet het en glo ‘n seun (11) en ‘n man (33) se dood veroorsaak het.
Brig. Sabata Mokgwabone sê ‘n skoot is in die rigting van twee konstruksievoertuie gevuur tydens die protesaksie, wat na bewering oor aanstellingseise gegaan het. Die voertuie is glo ook met klippe bestook. Die bestuurder van een van die voertuie het teruggeskiet, waarna die seun op die toneel dood is. Die ouer man het in die Schweizer-Reneke-hospitaal aan sy wonde gesterf. Nog twee persone is gewond.
Mokgwabone sê die polisie het die verdagte in hegtenis geneem en sy vuurwapen gekonfiskeer. Die insident word ondersoek en die situasie gemonitor.
Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris, waarsku die publiek oor die gevaar van gewelddadige protesaksies waar kinders en onskuldige persone betrokke is.





