MPUMALANGA. – ‘n Man is Vrydagaand op ‘n plaas in die Delmas-area doodgeskiet, waarna Wessel Badenhorst (55), ‘n veiligheidswag, in hegtenis geneem is.
Kol. Donald Mdhluli sê die oorledene was saam met ‘n vrou op die betrokke plaas toe polisie en paramedici omstreeks 22:45 daarheen ontbied is.
Op die toneel is ‘n vrou met skietwonde, ‘n veiligheidswag met ‘n vuurwapen en twee voertuie aangetref. Een van die voertuie op die toneel behoort volgens Mdhluli aan die wag. Die ander voertuig se windskerm was vol koeëlgate en leë doppies het langsaan gelê. Die vrou het glo gesê sy was saam met ‘n vriend op die plaas, maar het nie geweet waar hy na die skietery was nie. Tydens ‘n soektog is die liggaam van die man met skietwonde gevind en hy is dood verklaar.
‘n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek. Die veiligheidswag, wat vir die misdade in hegtenis geneem is, se vuurwapen is vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
Die motief van die skietvoorval is tans onbekend.
Badenhorst het op 25 Maart in die Delmas-streekhof verskyn waarna die saak vir formele borgaansoek tot 3 April uitgestel is. Mdhluli sê meer klagtes kan moontlik bygevoeg word.





