OOS-KAAP. – Tristan Ehrenreich (28) het op 15 November spoorloos verdwyn. Sy voertuig is daarna langs die R102 naby Oudebosch Farmstall gevind. Die polisie het die publiek se hulp gevra nadat Ehrenreich in Kareedouw as vermis aangemeld is.
Luidens ‘n verklaring deur AO Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het Ehrenreich se voertuig vermoedelik die pad byster geraak en omgeslaan. Alhoewel ‘n soektog dadelik van stapel gestuur is, is die bestuurder tot op hede nie gevind nie. Selfs ‘n termiese hommeltuig is Sondag sonder sukses ingespan. Maandag het die soek-en-reddingspan, saam met ander rolspelers, ondersteuning van die lugvleuel en die honde-eenheid uit Gqeberha gekry.
Enigiemand wat weet waar Ehrenreich hom bevind, word gevra om speur.AO Jacques le Roux by 066 255 6240 te bel.





