EVATON, GAUTENG. – ’n Man (21) is Donderdagmiddag oorlede nadat hy in kontak gekom het met laagliggende kragdrade op Small Farms, Evaton, noordwes van Vereeniging.
Volgens Eskom was die man en ’n vriend op pad huis toe na hulle dag se werk. Hy het na bewering met die bossnyer wat hy vir werk gebruik aan die lewendige kragdraad geraak en noodlottige wonde opgedoen.
Eskom-tegnici het twee maande vantevore op ’n diefstalvoorval by die Jetta-substasie gereageer. Die skokvoorval het ongeveer een kilometer van die substasie plaasgevind.
By nadere ondersoek het hulle gevind dat ’n hulptransformator gesteel is. Dit is nie deur die gemeenskap aangemeld nie. Eskom veroordeel diefstal en vandalisme by hulle substasies juis omdat dit onveilige omgewings skep wat inwoners se lewens in gevaar stel.
Hulle het aangedui dat die voorval verder ondersoek word.
Bron: Eskom





