KWAZULU-NATAL. – ’n Voetganger (47) is Vrydagoggend in Osindisweni dood verklaar nadat hy deur ’n volgelaaide vragmotorsleepwa in Russomstraat getref is en onder die agterwiele beland het.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het die voorval plaasgevind toe die vragmotor uit Toddstraat in Russomstraat ingedraai het. Verbygaande motoriste het omstreeks 10:45 noodhulp ontbied.
Die man is op die toneel deur paramedici gestabiliseer en na die Osindisweni-staatshospitaal vervoer. Hy het verskeie frakture opgedoen en is met aankoms by die hospitaal dood verklaar.






