MPUMALANGA. – ‘n Man (58) het Vrydag gesterf nadat sy werknemer se pitbull hom glo in Marapyane in Mmametlhake verskeur het. Die polisie ondersoek die voorval.
Kol. Donald Mdhluli sê volgens inligting het die oorledene op die erf van sy werknemer gewoon en die honde versorg.
“Daar is rapporteer die pitbull-honde is dikwels toegesluit en is eers tussen 01:00 en 04:30 uitgelaat om patrollies op die perseel te doen.”
Die oorledene is glo Donderdag uit en toe hy Vrydag in die vroeë oggendure terugkeer, is hy glo deur die een hond aangeval, waarna hy gesterf het. Sy lewelose liggaam is deur ‘n veiligheidswag, met die hond langs hom, gekry. Hy het verskeie beserings gehad. Die eienaar is ingelig, wat die polisie ontbied het. Die man is op die toneel dood verklaar.
“Die verslag dui aan die betrokke hond is reeds die oggend van Saterdag 19 Oktober 2024 van kant gemaak..”
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Die polisie vra vir kalmte terwyl die insident ondersoek word.





