KWAZULU-NATAL. – ‘n Man het Saterdagmiddag in ‘n plaaslike vakansie-oord se swembad in Port Edward verdrink.
Craig Lambinon van die NSRI het ‘n verklaring van John Nicholas, die NSRI-stasiebevelvoerder van Port Edward, gedeel, oor die diens wat omstreeks 15:00 die middag saam met verskeie ambulansdienste na die plaaslike oord is waar ‘n persoon in die moeilikheid was.
Op die toneel is vasgestel ‘n man (27) van Durban, wat volgens vermoede in Flagstaff in die Oos-Kaap werk, is deur omstanders en oordpersoneel uit die swembad gehaal. Hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Omstandighede van die verdrinking is nie duidelik nie. Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





