LIMPOPO. – ’n Gesinsdrama het Sondagaand in bloedvergieting geëindig toe ’n man (45) glo sy vrou (40) doodgeskiet, ’n winkelbestuurder ernstig gewond en daarna selfdood gepleeg het.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 17:15 by die Namakgale-winkelsentrum in die Mopani-distrik plaasgevind. Beamptes het drie persone met sigbare beserings in ’n plas bloed aangetref.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die man sy vrou die winkel in gevolg het, waar sy tevergeefs probeer wegkruip het. Die gewapende verdagte het haar agternagesit en twee skote in die bestuurder se kantoor afgevuur, wat die bestuurder gewond het. Die verdagte het sy vrou daarna uit die kantoor gesleep, haar verskeie kere met ’n mes gesteek en haar doodgeskiet. Kort daarna het hy die wapen op homself gerig en is op die toneel dood verklaar. Die winkelbestuurder is vir behandeling in ’n hospitaal opgeneem.
Polisie het bevestig dat die vuurwapen wat gebruik is, onwettig was en dat die reeksnommer afgevyl is. Op die toneel is beslag gelê op die vuurwapen, mes, patrone en koeëls.
Die identiteit van die oorledenes sal binnekort bekend gemaak word. Die polisie glo dat die motief verband hou met ’n huishoudelike geskil.





