NOORD-KAAP. – Martiens Modukaneng (58) van Modderrivier is deur die streekhof tot drie jaar gevangenisstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, veroordeel. Die vonnis spruit uit die aanranding van ’n seun (9) toe dié se ma vir ‘n bierbottel gekoes en dit die seun teen die kop getref het. Die seun het ernstige kopbeserings opgedoen.
Lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, sê die ernstige aanranding het op 7 Maart 2024 plaasgevind. Op die betrokke dag het die beskuldigde by die huis van die seun se ma opgedaag en probeer om haar met ’n bierbottel te slaan. Die ma kon die bottel vermy, maar dit het die seun getref, wat beserings aan sy kop, gesig en oor opgedoen het. Hy is hospitaal toe geneem vir ‘n mediese ondersoek en ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is aangemeld. Die beskuldigde is op 12 Maart 2024 in hegtenis geneem. Hy is skuldig bevind en gevonnis.





