KWAZULU-NATAL. – Lindokuhle Christopher Mhlongo (33) is tot dubbel lewenslange en vyf jaar addisionele tronkstraf gevonnis nadat hy vir die ontvoering, verkragting, en moord van ‘n meisie (7) skuldig gepleit en skuldig bevind is.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Mhlongo het tydens sy pleidooi gesê hy het op 29 Julie in die Empangeni-area op sy stoep gesit toe hy die kind buite sien speel het. Hy het vir haar gesê om in die kamer in te gaan en vir haarself ‘n R1-muntstuk van die tafel af te vat. Hy het haar gevolg, die deur toegemaak, gegryp, ontklee en verkrag.
“Toe hy haar magteloos en in pyn sien, het hy besef wat hy doen, is verkeerd. Hy het oorweeg om haar te laat gaan, maar gedink sy sou haar ma vertel. Hy het besluit om haar te vermoor.”
Mhlongo het sy hand oor die meisie se mond en neus gesit totdat sy dood was. Hierna is haar liggaam in twee sakke onder ‘n bed gesit, waarna Mhlongo die huis verlaat het.
“Die volgende oggend het sy gewete hom gepla. Hy het die huiseienaar, van wie hy huur, gebel en haar vertel wat hy aan die oorledene gedoen het. Hy het ook vir haar gesê waar hulle die kind se lyk kan kry, omdat haar familielede en die lede van die gemeenskap na haar gesoek het.”
‘n Slagofferimpakverklaring van die kind se ma is ter verswaring van die vonnis aan die hof oorhandig. Die oorledene se ma het daarin gesê sy voel asof sy in ‘n nagmerrie is en kan steeds nie glo haar kind is dood nie. Sy mis haar kind en sal seker nooit afsluiting kry nie.
Mhlongo is lewenslank elk vir moord en verkragting en vyf jaar vir ontvoering gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.





