WES-KAAP. – ‘n Man (50) gaan vandag op aanklagte van crimen injuria en kubermisdaad in die Kaapstad-landdroshof verskyn na hy glo neerhalende opmerkings in ‘n video op sosiale media teen swart mense gemaak het.
Brig. Novela Potelwa sê in ‘n verklaring die video is op sosiale media versprei. Die Wes-Kaap se handelsmisdaadeenheid het ‘n klagte oor die video ontvang en dit ondersoek.
In die video raas die verdagte glo oor sy siening van die haglike situasie in Suid-Afrika. Die man maak glo voorts opmerkings oor ‘n spesifieke rassegroep wat wit mense leed aandoen. Hy sê voorts wit mense moet wakker word en daar word beledigend na twee spesifieke politici verwys. Die man is Woensdag in die Oos-Kaap gearresteer.
Potelwa bevestig meer aanklagte kan, soos die ondersoek voortgaan, nie uitgesluit word nie.
“’n Streng waarskuwing word aan alle sosialemediagebruikers gerig om verantwoordelik op platforms te wees, aangesien versuim om dit te doen ernstige gevolge sal hê.”
Nuusflits het ‘n redaksionele besluit geneem om nie die video te deel nie.





