KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ’n man, vermoedelik dié van ’n 22-jarige man wat Donderdag in die branders by Southbroom vermis geraak het, is Maandag deur polisieduikers, met bystand van NSRI Shelly Beach, gevind. Daar is sedert Donderdag na die vermiste man van Durban gesoek.
Craig Lambinon, woordvoerder vir die NSRI, sê die Shelly Beach-diensspan is Maandag omstreeks 13:30 geaktiveer, nadat ‘n ooggetuie ‘n liggaam in die brandersone buite die Southbroom-hoofstrand sien dryf het. Die polisie is in kennis gestel, waarna die waterpolisie-enduikeenheid, sowel as ‘n patrollievoertuig van Shelly Beach-polisiekantoor, ‘n NSRI-diensspan en ‘n NSRI-reddingsvaartuig, reageer het. By aankoms op die toneel is die liggaam van ’n volwasse man in die water gevind, uit die see gehaal en aan patologiese dienste oorhandig.
Familielede van die 22-jarige man is ontvang, waarna formele identifikasie volgens toepaslike protokol gereël is. ‘n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie geopen.
Lees ook meer hier:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





