LIMPOPO. – Verskeie voorvalle waarin mans glo aangerand en met geweld na ’n inisiasieskool geneem is, het tot die inhegtenisneming van drie verdagtes, insluitend ‘n tradisionele geneser, gelei. Hulle sal na verwagting vandag (Dinsdag) in die Mankweng-landdroshof voorkom.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die afsonderlike voorvalle het op 6 Julie in Mamatsha, GaMolepo, in die Mankweng-polisiëringsgebied in die Capricorn-distrik plaasgevind. Die drie verdagtes sal op verskeie aanklagte, insluitend aanranding met die opset om ernstige liggaamlike beserings te veroorsaak, gewone aanranding en die gebruik van dwang om iemand na ’n inisiasieskool te neem, in die hof verskyn.
In die eerste voorval is ‘n man (71) glo deur ‘n groep mense wat by sy huis opgedaag het daarvan beskuldig dat hy met inisiasieskoolsake inmeng. Hy is met stokke en sambokke aangerand en ernstig beseer. Hy het onder andere ’n gebreekte hand opgedoen en is met geweld na die inisiasieskool geneem.
Gedurende die tweede voorval is ‘n man deur familielede ingelig dat ’n groep mense by sy huis bymekaargekom het. Met aankoms by sy huis is hy glo met met toue vasgebind, agter op ‘n bakkie gesit en teen sy sin na ‘n inisiasieskool geneem.
In die derde voorval, kort ná die tweede, is ’n man (40) glo aangerand toe ’n groep mense sonder om ‘n verduideliking te gee sy erf betree het en hom met stokke en sambokke aangeval het.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom en die gewelddadige optrede veroordeel. “Hoewel ons die kulturele betekenis van inisiasie erken, mag dit nooit as ’n instrument van intimidasie, geweld of gedwonge deelname gebruik word nie. Sulke kriminele optrede ondermyn die waardes wat kulturele tradisies veronderstel is om te handhaaf. Die polisie sal beslissend optree om individue se regte te beskerm en die wet te handhaaf.”
Polisie-ondersoeke duur voort en verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





