MPUMALANGA. – Vier mans is Maandagaand in ’n kop-aan-kop-botsing tussen ’n sedan en ’n Ford Ranger-bakkie op die R23 tussen Balfour en Greylingstad dood.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die oorledenes sluit beide die bestuurders van die voertuie in. ‘n Passasier van die bakkie, wat lig beseer is, het by Suikebosrand Lif Care-hospitaal in Heidelberg mediese behandeling ontvang, maar is reeds ontslaan. Die sedan wat in die botsing betrokke was, is op die tydstip van die ongeluk gesleep. Die ander sedan, wat die voertuig gesleep het, is nie beskadig nie en die bestuurder is ook nie beseer nie.
Omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, is onduidelik, maar word ondersoek.
Jackie Macie, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het meegevoel met die families van die oorledenes betuig.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





